
Ninina: Hokkiespeler se drome vat vlam!
“Ek dink die feit dat ek hokkie speel leer my selfbeheersing en gee my die motivering om verder te wil gaan,” vertel Ninina Booysens. As ʼn leerder by Laerskool Nylstroom, het Ninina op 8-jarige ouderdom hokkie begin speel. Vandag is die 14-jarige Ninina ʼn talentvolle speler in die laerskool se eerste span. Sy presteer ook in die klaskamer, waar sy haar selfbeheersing en motivering toepas. Terwyl hokkie haar waardevolle lesse leer, is dit ook ʼn bron van pret! “Dit is lekker om saam ander te kan speel,” beaam Ninina.
Vir die spontane en vriendelike Ninina is die hokkiespan die perfekte plek. Omdat sy van mense hou, droom sy daarvan om eendag as brandbestryder menselewens te red. Haar passie is om ander te dien omdat sy self verryk is deur die omgee van mense. Ninina vertel hoe “Tannie Annie” haar elke Saterdag na hokkie-oefeninge toe neem en haar help om borge vir haar hokkietoere te vind. Hierdie borge sorg dat Ninina haar volle potensiaal as sportvrou kan bereik.
As lid van Limpopo se Sekhukhune-hokkiespan, sien Ninina tans uit na die streekswedstryde wat sy in Tzaneen gaan speel. Dit is nog ʼn tree op die opwindende pad vorentoe! Ons kan nie wag om te sien waar die pad heen lei nie!