Vol magies, vol hartjies: AKK se Koskaste-veldtog ʼn heerlike sukses!


Toe staatsubsidies vroeër vanjaar gesny is, was baie organisasies sonder winsbejag bekommerd. Vir Abraham Kriel Kinderhuis dek die staatssubsidie nou minder as 30% van hulle uitgawes. Skrapse kosvoorrade kon ʼn ramp vir die kinderhuis gewees het. Met 200 mense om daagliks te voer, kon hulle maklik moedeloos gevoel het. Maar Abraham Kriel Kinderhuis het ʼn geheime wapen: die legio vriende van die kinderhuis!

Toe die “Leë koskaste , leë magies”-veldtog in Mei begin het, het die kinderhuis se vriende onmiddelik ingespring om te help. “Ons het regtig ʼn baie goeie reaksie gehad,” vertel Gerda van der Merwe, Abraham Kriel se uitvoerende hoof. “Ons het veral baie wildsvleis, pasta, melk, eiers, sopmengsels, mieliemeel en blikkieskos gekry. Toiletware en skoonmaakmiddels was ook baie nodig gewees en ons het dit ontvang.” Danksy die hulp van vriende van die kinderhuis het leë koskaste vol geword, en vol magies beteken ook vol hartjies!

"Ons wil graag elke skenker bedank wat bygedra het," sê Gerda. "Die reaksie was oorweldigend en ons is so dankbaar daarvoor!"

Ons kan staatmaak op vriendskap in onseker tye. Vriendskap kan ons deur swaarkry dra omdat dit nie van politiek afhanklik is nie. In werklikheid bly vriendskap opreg ten spyte van chaotiese omstandighede. Die vriende van Abraham Kriel Kinderhuis het ons weer deur die chaos gedra!