
“DIE GROOTSTE TALENTSKOU” AANGEBIED DEUR ABRAHAM KRIEL KINDERHUIS OP 25 MEI 2024
Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom is opgewonde dat die talentskou wat op 25 Mei vanjaar by die Weesgerus Oord gehou is, 'n reusesukses was!
Die doel van hierdie talentaand was om vermaak te verskaf en geleentheid te skep vir kinders om hul talente ten toon te stel, met mekaar mee te ding. Ons wou hulle motiveer en hulle laat besef dat hulle "genoeg" is. Die tema van die talentaand was “The Greatest Talent Show”.
Die kinders kon individueel, in groepe of in huisverband in die volgende kategorieë deelneem:
- Dans
- Sang, komedie
- Poësie
- Oop kategorie
Die kinders het van Februarie 2024 baie hard begin oefen en nooit opgegee nie. Baie tyd en energie is bestee om die beste moontlike produksies vir die gemeenskap op die planke te bring. Met al die gespook en gespartel was dit ʼn belewenis om te sien dat elke item uniek was en met baie opwinding, passie en energie aangebied is.
Die beoordeling is deur mnr. Sam Seleki Selokela, me. Whilma van der Merwe en mnr. Wiets Botes waargeneem. Hulle het hul kosbare tyd en energie opgeoffer om deel van ons groot talentaand te wees.
Die wenners is op die aand van 25 Mei 2024 deur ons uitvoerende hoof, mev. Gerda van der Merwe, aangekondig.
Die eerste plek is aan die Mango Groove-groep toegeken.
Die Gumboots-dansers het tweede geëindig
Die derde plek het gegaan aan die Taaibos Crowd.
Die hele aand was is suksesvol deur ons seromoniemeesters aangebied wat hulle uitstekend van hulle taak gekwyt het. Die program is gekenmerk deur baie opwinding, maar ook stresvolle oomblikke. Elke item is egter met passie en energie uitgevoer.
Die talentaand was deel van ons fondsinsamelingsprojek en kaartjies is aan die publiek verkoop. Ons het bewustheid geskep vir wat ons by die kinderhuis doen en die wêreld gewys hoe ons lewens verander.
Ons glo dat hierdie geleentheid ‘n positiewe beeld van die kinderhuis geskets het en is reeds besig om die volgende onvergeetlike talentaand propvol inspirasie vir 2025 te beplan. Hou die pers en ons webwerf vir meer inligting dop.
Ons leuse sê: “Ek kan”. Met ons suksesvolle talentaand het ons gewys: “Ons kon”. Met die beplanning vir volgende jaar sê ons: “Ons kan weer!”
Charnel Oberholzer
ORGANISEERDER: Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom
