
'n Aand van hoop
Op 22 Januarie het die bestuursvereniging van Koro Creek, in samewerking met die Atterbury Trust, ʼn onvergeetlike fondsinsamelingsfunksie vir Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom aangebied.
Tydens die glansgeleentheid het ons kinders hulle talente tentoongestel en die gaste vermaak. Die gehoor was in vervoering met al die vertonings, van die kinderhuiskoor se pragtige sang tot die energieke danspassies van die lyndansers en rubbersteweldansers.
Ná die verrigtinge is die kinders bederf met ʼn heerlike ete en roomys wat die aand vir hulle op ʼn hoogtepunt afgesluit het.
Met diep dankbaarheid aanvaar ons die skenking van R47 000. Dit sal ʼn betekenisvolle verskil in ons kinders se lewens maak.
Ons opregte dank aan die Koro Creek-bestuursvereniging , die Atterbury Trust en almal wat hierdie aand van hoop en vreugde moontlik gemaak het!
