Ons neem afskeid van ons liewe Gugu na 36 jaar


Einde Februarie het die Abraham Kriel Kinderhuis totsiens gesê aan Tannie Liesbet, of Gugu, soos wat sy aan almal bekend was.

Tobekani Elizabeth Makwela het sedert 11 Mei 1988 haar lewe gewy aan die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom as algemene assistent. In die 36 jaar het sy hierdie gemeenskap daagliks gedien deur die kinders in haar sorg te troos, te beskerm en lief te hê. Sy het gesorg dat Huis Maroela skoon en netjies was. Geen kas was ooit deurmekaar nie en alles altyd netjies op sy plek. Sy het met trots gaste en donateurs ontvang en rondgewys.

Vir Tannie Liesbet was haar werk ʼn voorreg; sy het haar take daagliks met oorgawe aangepak en haar kollegas en medemens insgelyks met die grootste respek behandel.

Sy het nie net diep in die kinders van Huis Maroela se harte gekruip nie, maar ook in diegene saam met wie sy dag in en dag uit gewerk het. Almal praat net met die grootste lof van die liewe Gugu: “Haar krag inspireer my. Sy het haar werk met blymoedigheid en dankbaarheid gedoen, en nooit met ʼn negatiewe houding by die werk aangekom nie. Ek het geduld by háár geleer,” sê Christa Hoffmann, oud-kollega van Liesbet.

Een ding is duidelik: haar hart het warm vir kinders geklop. Gugu sou honger kinders in haar buurt ook kos gee, want sy het geweet die nood daar buite is groot, en daarom het sy nie geskroom om te help nie.

Al die honderde kinders wat deur haar twee hande gegaan het, is werklik geseënd om haar in hulle lewens te kon hê.

 

Liefste Gugu, ons wens vir jou rus, vrede en gesondheid toe vir jou aftrede.

Ondersteun Ons