Abraham Kriel-kinders neem deel aan Bootslingers-dansbyeenkoms


Op 8 Maart 2025 het die Bootslingers ʼn groot dansbyeenkoms aangebied waaraan verskeie dansgroepe van Naboomspruit, Bela-Bela en Pretoria deelgeneem het. Van die Abraham Kriel-kinders kon ook meedoen – ʼn belewenis wat hulle lank sal onthou.

Corné Jansen van Vuuren, wat in die kinderhuis se klerekruik werk, het ʼn groot liefde vir lyndans en deel haar passie met ongeveer 25 kinders wat elke week by haar klas aansluit. Dit was vir haar ʼn groot voorreg om van hulle saam met haar na dié dansbyeenkoms te neem.

Danksy ʼn onbaatsugtige donateur is elke kind se toegangsfooi by die deur betaal, en van vroegoggend tot laatmiddag was die dansvloer vol lewe.

“Die kinders het dit vreeslik geniet om saam met so ʼn groot groep te dans en nuwe danspassies aan te leer. Dit was vir my ʼn eer om ons kinders aan ander groepe voor te stel. Ek kon spog met hoe hard hulle oefen en hoeveel vreugde dans vir hulle bring,” sê Corné.

Die kinders oefen weekliks en hierdie dansbyeenkoms was nie net ʼn lekker geleentheid nie, maar ook ʼn manier om vir hulle erkenning te gee vir hulle harde werk.