
Die dapper stappers van ons kinderhuis
Die maatskaplike werkers van Abraham Kriel kinderhuis Nylstroom het elkeen ongeveer 37 kinders waarvoor hulle verantwoordelikheid aanvaar. Hulle werk nou saam met die kinderversorgers aan elkeen se individuele ontwikkelingsplan om die kinders die geleentheid te gee om optimaal te ontwikkel.
Ongelukkig is daar nie genoeg tyd in ʼn week om individueel na elke kind uit te reik nie. Daarom is blootstelling aan ander aktiwiteite een van die maniere waarop ons maatskaplike werkers poog om tred te hou met die kinders se ontwikkeling en funksionering.
Elize Sauer, een van ons maatskaplike werkers, het besluit om met die kinders op haar gevallelading te gaan stap. Wat aanvanklik begin het as Vrydagmiddag-stappies in die dorp, het in 2024 gegroe tot hulle eerste staproete in die Waterberge.
Die kinders het ’n roete van sowat 3,5 km gestap en die wonder van die natuur leer ken. Sedertdien het hulle al 13,5 km gestap – soms oor berge, klippe en strome wat hul uithouvermoë deeglik beproef het.
Aan die begin van 2025 het die groep verdubbel toe baie graad 1-kinders bykom. Die groep is dus in twee verdeel:
Groep 1: Graad 1–3
Groep 2: Graad 4–7
Elize en haar man, wat haar ondersteun, stap dus nou twee keer per maand: ’n maklike roete vir die juniors, en ’n meer uitdagende een vir die seniors.
“Die kinders leer só baie wanneer hulle stap – nie net om die natuur lief te hê en te respekteer nie, maar ook om hulself en hul vermoëns te ontdek. Hulle leer dat uithouvermoë beteken om verder te gaan as wat jy dink jy kan. Hindernisse word leerskole vir probleemoplossing,” sê Elize.
Die staproetes bied ook kosbare tyd vir nuwe vriendskappe, groepsamewerking en ondersteuning – lewenslesse wat nie in ’n kantoor geleer kan word nie.
“I took a walk in the woods and came out taller than the trees.” (Henry Thoreau)
Al stappend gee ons aan die kinders vlerke om die wêreld – hoe wreed ook al – te oorwin.
