
Amy Bell Charities en PHASA ondersteun Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom
Die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom het onlangs waardevolle bydraes ontvang van die Amy Bell Charities en PHASA (Professionele Jagtersvereniging van Suid-Afrika). Die skenkings het skoonmaakmiddels asook nuwe, verseëlbare koshouers ingesluit wat verseker dat etes warm en higiënies vanaf die kombuis na die huise vervoer kan word.
Amy Bell Charities is reeds die afgelope vier jaar nou betrokke by die kinderhuis. Onder leiding van mnr. Irvin Tam, direkteur van die Amy Bell Charities in Suid-Africa, maak hierdie organisasie dit moontlik dat kinders wat gedurende die Desembervakansie by die kinderhuis moet bly, ʼn seevakansie in Port Elizabeth kan geniet. Dit is ʼn hoogtepunt wat jaarliks onvergeetlike herinneringe skep.
PHASA ondersteun hierdie inisiatief van die begin af en borg jaarliks die brandstofkoste vir die reis see toe en terug. Hierdie bydrae speel ʼn deurslaggewende rol in die volhoubaarheid van die projek.
Die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom spreek sy opregte dank en waardering uit vir beide hierdie organisasies se volgehoue ondersteuning en betrokkenheid. Hulle is ware engele in mensgestalte om ons kinders se lewens op so ʼn besondere manier aan te raak. Dankie vir sulke puik vennote in ons strewe om hoop, vreugde en stabiliteit aan die Abraham Kriel-kinders te bring.
