AKK Talentaand, 'n Nag by die Bioskoop


Oud en jonk was op 6 September 2025 teenwoordig by die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom se A Night at the Cinema by die Weesgerus Oord, Modimolle.

Dit was ʼn aand van musiek, toneelspel en dans geïnspireer deur bekende filmtonele om die talent van ons kinders en personeel ten toon te stel. Die verrigtinge is feestelik geopen met ʼn skouspelagtige laservertoning deur Laser X. Almal in die saal is meegevoer deur die helder, kleurryke ligte en die tydlose musiek van ABBA.

Die gehoor het in verwondering toegekyk hoe elke deelnemer alles gee: van die Gumboot-dansers se flikflakke deur die lug tot die Miere wat saam met die Minionsdie verhoog met vrolikheid en energie laat leef het.

Die Abraham Kriel-personeel het die gehoor verras met ʼn humoristiese weergawe van die 1992-film, Sister Act, met Whoopi Goldberg as hoofkarakter. Die aand is afgesluit met ʼn ikoniese toneel uit Dirty Dancing.

Ons beoordelaars was Isabau Cilliers, somatoloog en eienaar van Be-You-Tiful-skoonheidsalon in Modimolle; Jessica Maroga, ʼn 26-jarige met ʼn passie vir volhoubare boerdery en ʼn honneursgraad in Landbou-ekonomie; en Sam Seleki Selokelaie, pastoor, lewensafrigter en motiveringspreker.

Ons wenners vir die aand was die Gumboot-dansers met hul energieke optrede. Die Miere en hulle onvergeetlike rooi brigade het die tweede plek verower, en High School Musical het die derde plek ingepalm met hul glansryke vertoning. ʼn Besonderse woord van dank gaan aan Charnel Oberholzer, een van ons maatskaplike werkers, en haar kollegas wat hierdie aand gekoördineer het, asook Pieter Labuschagne en sy span vir klank en beligting.

Ons is trots op elke kind en personeellid wat deelgeneem het.

Ondersteun Ons