
Scarlett tokkel op 'n unieke kitaar
Op 26 Augustus 2025 het ons die voorreg gehad om by Tambotie Huis ʼn unieke kitaar aan Scarlett Williams te oorhandig. Sy is 11 jaar oud en speel graag kitaar. Scarlett is deel van ʼn groep kinders wat weekliks kitaarles by Pieter Labuscghne kry.
As deel van ʼn skoolprojek moes ʼn instrument uit herwinbare materiaal gemaak word. Daar is op ʼn kitaar besluit wat met die hulp van Oom Toppe Topham van Bosvelsig ontwerp en gebou is.
Wat dié instrument besonders maak, is dat dit van alledaagse, herwinde materiale gemaak is. Die kitaar se klankkas is gemaak van ʼn Supreme Cake Wheat Flour-blik wat oom Toppe self by die skrootwerf opgespoor het. Die snare is gewone vislyn. Die stempenne en -knoppe is eiehandig ontwerp en gemaak. Vir die frette, oftewel die dwars stafies op die kitaarnek, is tandestokkies gebruik. Die agterste snaargids is van ʼn stuk van ʼn kameelperd se voorbeen gemaak. Verder het hierdie spesiaal ontwerpte kitaar vier klankgate wat sorgvuldig gesny is om toon en resonans te verbeter.
Oom Toppe was dankbaar dat hy deur sy kennis en vaardigheid ʼn kind se hart kon blymaak. Ons betuig ons innige dank aan hom vir hierdie kosbare geskenk en gebaar van liefde.
