Ivor Swartz bring ʼn boodskap van hoop en tweede kanse


ʼn spreker, mentor en jeugleier wie se lewensverhaal getuig van hoop, verandering en tweede kanse.

Ivor is bekend vir sy werk onder jongmense en is sedert 2007 betrokke by skole, kerke, tronke en jeugkampe. Sy boodskap is gebore uit sy eie ervaring. As ʼn jong seun het hy uit moeilike omstandighede probeer ontsnap, maar in die proses verkeerde keuses gemaak wat uiteindelik tot tronkstraf gelei het.

Juis daar het sy lewe egter ʼn nuwe rigting ingeslaan. Met die ondersteuning van ʼn onderwyser het hy matriek voltooi en besluit dat dit tyd is vir ʼn nuwe begin.

“Ek wil keer dat ander jongmense dieselfde pad stap,” vertel Ivor. “Daar is altyd hoop, maak nie saak hoe donker jou omstandighede lyk nie.”

Ná sy vrylating in 2005 het hy hom daaraan toegewy om jongmense te inspireer. Vandag besoek hy jaarliks sowat 80 skole deur sy organisasie, Youth the Future, waar hy ʼn boodskap bring van hoop, verantwoordelikheid en hoe om goeie lewenskeuses te maak.

Akademies het Ivor ook sy merk gemaak. Hy het teologie gestudeer en in 2015 ʼn BTh-graad behaal, gevolg deur ʼn honneursgraad in 2019. Hy dien tans as jeugleraar by Oosterlig Gemeente in Pretoria en is betrokke by die #IMAGINE-tienerbeweging. Sy boek, Die verlore seun vannie Gaatjiehet in 2020 verskyn en is later met die Desmond Tutu–Gerrit Brand-prys bekroon. In 2022 het Kies die lewe: Leer dans in depressie gevolg, asook ʼn televisiereeks op VIA.

Op 1 April het Ivor ʼn kragtige boodskap van hoop, liefde en omgee gedeel tydens die kinderhuis se jaarlikse Passiespel.

Vir ons kinders was sy besoek ʼn herinnering dat omstandighede nie die laaste woord het nie, en dat elke kind die kans verdien om ʼn nuwe storie te skryf.

Ondersteun Ons