
Bemarker leef haar roeping by ons kinderhuis uit
Marlene de Villiers is sedert 2018 die bemarker van Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom.
“Voordat ek by die kinderhuis aangesluit het, was ek in die dinamiese en kreatiewe omgewing van die vermaaklikheidsbedryf werksaam. Tog was dit nog altyd my hartsbegeerte om by liefdadigheidswerk betrokke te raak en ʼn tasbare verskil in mense se lewens te maak.”
Haar oorgang na die kinderhuis was vir haar meer as ʼn loopbaanskeuse; dit was ʼn roeping.
“Vandag is dit vir my ʼn voorreg om daagliks deel te wees van ʼn omgewing waar kinders liefde, ondersteuning en hoop ontvang,” sê De Villiers.
In haar rol as bemarker fokus sy daarop om bewustheid oor die kinderhuis te skep, gemeenskappe te betrek en en steun vir die kinders te werf. Volgens De Villiers lê die grootste beloning in die kinders se groei en suksesverhale.
“Elke kind se storie raak my hart,” sê sy. “Om te sien hoe ʼn kind ontwikkel en sy of haar potensiaal begin verwesenlik, is onbeskryflik vervullend.”
Vir Marlene gaan haar werk uiteindelik oor hoop, menswaardigheid en die geleentheid om ʼn blywende verskil in kinders se lewens te maak.
