
Oosterlig Gemeente se omgee laat kinderharte blom
Vir Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom beteken die betrokkenheid van gemeentes veel meer as ondersteuning: dit bring hoop, liefde en die wete dat ons kinders nie alleen is nie.
ʼn Onlangse voorbeeld hiervan is Oosterlig Gemeente in Pretoria. Hul betrokkenheid het met ʼn eenvoudige telefoonoproep begin. Uit daardie eerste gesprek het ʼn besondere verhouding van omgee en ondersteuning begin groei.
Die eerste besoek aan die gemeente was vir ons kinders aanvanklik vol onsekerheid: ʼn nuwe plek, nuwe mense en ʼn onbekende omgewing. Die hartlike ontvangs het egter gou alle spanning laat verdwyn. Ons kinders is het die erediens geniet en is daarna bederf met geskenkpakkies en ʼn ete by Spur.
Tydens ʼn tweede besoek is die groep kinders weer met groot gasvryheid ontvang. Ná die diens is daar saam gespeel en pizza’s gemaak.
Vir ons kinders maak sulke gebare ʼn groot verskil. Of dit ʼn erediens, ʼn saamkuier, ʼn verjaarsdagbederf of ʼn maandelikse bydrae tot ʼn spesifieke huis is, elke vorm van betrokkenheid dra by tot ʼn gevoel van veiligheid, geborgenheid en hoop.
Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom is opreg dankbaar teenoor Oosterlig Gemeente en elke ander gemeente wat by ons betrokke is. Soms is dit juis die kleinste gebaar wat ʼn kinderhart weer laat blom.
