
Shemondre wys vasbytgees by ʼn Survivor-kamp
Vyf-en-twintig Abraham Kriel-kinders tussen die ouderdom van 14 en 18 jaar het onlangs aan die eerste Survivor-kamp deelgeneem. Die projek is deur Charnel Oberholzer gelei en is op die Amerikaanse kompetisie- en werklikheidsreeks Survivor gebasseer. Survivor.
Die kinders is in twee spanne verdeel en moes met beperkte voorrade hul eie skuilings bou, kos op oop vure voorberei en koue nagte, reën en moeilike omstandighede trotseer. Die hindernisse is deur Patsy Joubert, huisouer van Maroela-huis, en haar man, Johan, ontwerp en gebou.
Patsy sê sy was aanvanklik net ʼn toeskouer, maar is gou agter die skerms ingetrek. “Die deelnemers het my verras en beïndruk met die manier waarop hulle hierdie uitdagings hanteer het,” sê sy. “Hulle het ontdek dat hulle dapper, bekwaam en tot baie meer in staat is as wat hulle gedink het.”
Volgens Shemondre Southon was die ervaring uiters realisties. “Dit was soos die Survivor-reeks op TV,” vertel sy. “Ons nagte was bitter koud en een aand het dit gereën. Ons moes emmers onder die lekplekke sit en die vuur probeer aan die gang hou.”
Die kamp het uitdagings, belonings en uitstemrondes ingesluit. Pryse soos slaapsakke, koeldrank, vrugte, koekies en ʼn McDonald’s-bederf het die kinders gemotiveer om vas te byt wanneer moegheid en emosies hoog geloop het. Ivor Swartz het die deelnemers ook tydens ʼn motiveringsessie aangemoedig om in hulself te glo en nooit op te gee nie.
“Jy het nooit geweet of jy uitgestem gaan word nie,” sê Shemondre. “Ek het elke oggend vir myself gesê om nie op te gee nie en net in myself te glo en te vertrou dat ek dit kan doen.”
Shemondre het uiteindelik as wenner uit die stryd getree en met R2 000 weggestap: “Hierdie ervaring het my geleer van spanwerk, vertroue en hoe om altyd positief te bly, maak nie saak wat nie. Ek het ‘survive’!”
Die Suvivor-kamp het vir die deelnemers waardevolle lesse in dissipline, onafhanklikheid, veerkragtigheid en samewerking geleer en hulle herinner dat hulle sterker is as wat hulle dink.
