
Profiel van Sonika Cornelius – ʼn lig vir ander
Sonika Cornelius is ʼn ma, eggenote, maatskaplike werker en aktiewe gemeenskapslid met ʼn passie vir mense. Haar hart lê by die ondersteuning van haar gesin, vriende, kollegas, kinders en die gemeenskap waarin sy leef en werk.
“Ek is trots om by Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom te werk, omdat ek sterk glo in die organisasie se missie, waardes en doelwitte,” sê Sonika. Vir haar is die werk wat die kinderhuis doen lewensveranderend. Sy glo die organisasie maak ʼn betekenisvolle en blywende verskil in die kinders se lewens en die breër gemeenskap.
As gekwalifiseerde maatskaplike werker het Sonika waardevolle ervaring in bestuur, kinderbeskerming en kinder- en personeelontwikkeling. Sy is vaardig in die toepassing van terapeutiese intervensies wat daarop gemik is om welstand, genesing en groei te bevorder.
Die betekenis van haar naam, “helder lig”, sluit mooi aan by haar roeping. Sy put inspirasie uit die woorde: “Die kosbaarste lig is dié een wat jou in jou donkerste uur besoek.” Ook die gedagte dat ʼn lamp wat jy vir iemand anders aansteek, jou eie pad verlig, lê haar na aan die hart.
“Ek glo ek vervul my doel in die lewe wanneer my lig kan skyn, een personeellid op ʼn slag, een kind op ʼn slag en een gemeenskapslid op ʼn slag,” sê sy.
Deur haar betrokkenheid, deernis en professionele kundigheid streef Sonika daarna om hoop te bring waar daar seer is, leiding te gee waar daar onsekerheid is, en ʼn lig te wees in die lewens van kinders wat dit die nodigste het.
