Klerekruik gee ons kinders waardigheid, een kledingstuk op ʼn slag


By die Abraham Kriel Kinderhuis is ons Klerekruik se missie eenvoudig: om elke kind netjies, warm en met waardigheid van kop tot tone te klee.

Hier word elke vrygewige donasie met sorg hanteer. Wanneer klere ontvang word, word elke item nagegaan om seker te maak dat dit skoon, netjies en bruikbaar is. Daarna word dit volgens grootte op rakke gepak, sodat kinders maklik kan kies wat hulle nodig het. Vir baie van hierdie kinders beteken ʼn mooi hemp, ʼn warm sweetpakbroek of ʼn paar tekkies baie meer as net ʼn kledingstuk. Dit gee hulle selfvertroue, trots en die gevoel dat iemand omgee.

Wanneer nuwe kinders by die kinderhuis aankom, word hulle volledig toegerus met onderklere, gewone klere, kerkklere en skoolklere. Daarna werk die Klerekruik met ʼn ruilstelsel: kinders bring klere terug wat te klein geword het en ruil dit vir klere wat pas. Op dié manier word hulle ook geleer om hul klere op te pas en verantwoordelik daarmee om te gaan.

Die Klerekruik het tans ʼn groot behoefte aan klere vir kinders tussen 7 en 14 jaar oud. Kortbroeke vir seuns en meisies, sweetpakbroeke vir die winter, en somer- en winternagklere is dringend nodig. Om higiëniese redes bly nuwe onderklere ook ʼn belangrike behoefte.

Skoolklere, en veral skoolskoene, bly ʼn groot uitgawe, aangesien dit gereeld vervang moet word. Daarom maak elke skenking, groot of klein, ʼn werklike verskil.

Ons moedig ons vriende aan om klere wat nie meer gedra word nie, maar steeds netjies en bruikbaar is, aan die kinderhuis te skenk. Daardie kortbroek, trui, paar skoene of stel nagklere wat ongebruik in ʼn kas lê, kan vir ʼn kind warmte, waardigheid en nuwe hoop bring.

Stuur gerus ʼn e-pos indien jy meer inligting wil hê oor hoe om te skenk: [email protected].

Ondersteun Ons