Kinderhuis sluit die jaar op ʼn gesellige noot af met borgebraai


Die heerlike geur van skaap op die spit en varsgebakte knoffelbrood het op 6 November 2026 by Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom in die lug gehang toe al die kinders en personeel vir ʼn besondere borgebraai bymekaargekom het.

Die geleentheid is deur verskeie skenkers moontlik gemaak met die doel om die jaar op ʼn feestelike noot af te sluit en die kinders met ʼn heerlike ete te bederf.

Nyama Catering het vir die spyseniering gesorg en ʼn smaaklike ete voorberei. Op die spyskaart was skaap op die spit, hoender, gebakte aartappels, knoffelbrood en Griekse slaai. Tot groot vreugde van die kinders is malvapoeding en vla vir nagereg voorgesit.

“Dit is vir ons baie spesiaal om die jaar só saam as kinderhuisfamilie te kan afsluit. Ons is ongelooflik dankbaar teenoor elke skenker wat hierdie heerlike dag moontlik gemaak het,” sê Gerda van der Merwe, uitvoerende hoof van die kinderhuis.

Ná die lekker eet en gesellige saamkuier het die swembad geroep. Die kinders het nie op hulle laat wag nie, en kort voor lank is daar in die swembad vrolike gelag en baljaar.

“Dit is juis sulke dae wat ons opnuut daaraan herinner hoeveel vreugde ʼn eenvoudige gebaar van omgee kan bring. Dit is hierdie mooi oomblikke wat vir ons kinders soveel beteken,” sluit Gerda af.

Ondersteun Ons