
Kinderhuis skop veldtog af vir 16 Dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders
Die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom stel vandag sy video bekend om bewusmaking te skep teen die geweldige hoë vlakke van misdaad teen kinders. Die video gaan gebruik word om oor die volgende 4 weke 100 000 ondersteuners te werf om die kinderhuis se petisie te teken in belang van kinders wat geaffekteer word deur verskeie misdade en ʼn stelsel wat onvriendelik funksioneer teenoor kinders.
Die kinderhuis wil poog om:
1. Meer fondse beskikbaar te stel uit die staat se begroting vir die SAPD eenheid (Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdade Eenheid) wat met kinders werk.
2. Meer hulpbronne soos voertuie en personeel om die nood aan te spreek.
3. Groter fokus op opleiding aan die eenheid se personeel om kundigheid te verhoog.
4. Die regsproses aan te pas sodat die kind met die grootste sorg en beskerming hanteer en gelei word na ʼn misdaad aangemeld is.
“Ons wil duisende mense se ondersteuning werf tot 10 Desember 2020, die laaste dag van 16 Dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders. Op die dag sal ons ʼn memorandum met versoeke oorhandig saam met van hierdie geaffekteerde kinders se eie briewe en prentjies van wat hulle dink die President moet doen. Ons hoop dat elke volwassene sal opstaan vir die kinders.” sê Marlene de Villiers, woordvoerder by die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom.
Die kinderhuis versoek die publiek om die petisie te teken en te help om die video te versprei om die doelwitte te bereik vir ons kinders.
Om die inisiatief te ondersteun besoek die kinderhuis se webblad op die skakel: https://www.akknyl.co.za/childrens-lives-matter/ of om jou NAAM te SMS na 39236 (b’s & v’s geld) en maak ook ʼn R15 geskenk.