
Kinderhuis loods veldtog vir 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders
Die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom stel vandag sy video bekend om bewustheid te skep teen die uiters hoë vlakke van misdaad teen kinders. Die video sal gebruik word om 100 000 ondersteuners oor die volgende 4 weke te werf om die weeshuis se petisie te teken in belang van kinders wat deur verskeie misdade geraak word en 'n stelsel wat onvriendelik teenoor kinders funksioneer.
Die kinderhuis wil:
1. Maak meer fondse beskikbaar uit die staatsbegroting vir die SAPD-eenheid (Eenheid vir Huishoudelike Geweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdade) wat met kinders werk.
2. Meer hulpbronne soos voertuie en personeel om die noodgeval aan te spreek.
3. Groter fokus op die opleiding van die eenheid se personeel om kundigheid te verhoog.
4. Pas die regsproses aan sodat die kind met die grootste sorg en beskerming hanteer word en gelei word nadat 'n misdaad aangemeld is.
“Ons wil die steun van duisende mense werf tot 10 Desember 2020, die laaste dag van 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders. Op die dag sal ons 'n memorandum met versoeke oorhandig, saam met sommige van hierdie geaffekteerde kinders se eie briewe en foto's van wat hulle dink die President moet doen. Ons hoop dat elke volwassene vir die kinders sal opstaan,” sê Marlene de Villiers, woordvoerder by die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom.
Die kinderhuis vra die publiek om die petisie te teken en te help om die video te versprei om die doelwitte vir ons kinders te bereik.
Om die inisiatief te ondersteun, besoek die kinderhuis se webwerf by die skakel: https://www.akknyl.co.za/childrens-lives-matter/ of om jou NAAM na 39236 te SMS (T&V geld) en ook 'n geskenk van R15 te maak.
