CMA Bronkhorstspruit


Dit was ʼn koue wintersoggend toe 85 motorfietsryers se enjins deur die hekke van Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom gedreun het! Sowat 80 opgewonde kindergesiggies het die ryers luid toegejuig en hartlik verwelkom.

Na ʼn kort geestelike boodskap het die motorfietsryers by die Abraham Koffiehuis ʼn heerlike ontbyt geniet. Dit was ʼn redelike konsternasie aangesien ons 100 gaste verwag het en daar op die ou einde 135 mense vir die ontbyt opgedaag het. Ons kon egter planne maak en sorg dat elkeen innerlik versterk is voordat hulle weer die terugtog aanpak.

Die kinderhuis is so dankbaar vir die CMA-groep. Die fondse wat hulle ingesamel het, beloop ʼn bedrag van R41 470. Dit sal aangewend word om vir elke kind ʼn verjaarsdaggeskenk te koop wanneer hulle verjaar. Ons het 170 kinders in die kinderhuis en ons begroting fokus slegs op noodsaaklikhede en sluit dus nie verjaarsdaggeskenke in wat normaal in ʼn gewone gesin gegee word nie.

Baie dankie aan CMA Bronkhorstspruit vir die onbaatsugtige diens en omgee vir ons kinders. Ons is voorwaar geseën met julle in ons lewe!