
Vermaak en feesmaal by Abraham Kriel Kinderhuis
“Die hoogtepunt vir my was die sukses, die geselligheid en die kinders wat lekker gekoop het, en ook lekker saamgekuier het.” So beskryf feesorganiseerder Annie le Roux hierdie jaar se Abraham Kriel Kinderhuis-fees op 15 Junie.
Daar was 53 stalletjies en genoeg vermaak vir alle ouderdomme. Die sangers Henri Alant en Nadia, asook die gewilde Teen Ons Wil het opwindende vertonings gelewer. Die kinderhuis se eie Mango Groove-dansers was ook op die verhoog, en feesgangers het hulle talent “vreeslik geniet,” sê Annie.
Feesgangers was ook mal oor die stalletjies: Oom Theo se slap chips, Cecilia se speelgoed en Sean se pap en kaiings was die gewildste. Volgens Annie het die blootstelling vir uitstallers baie beteken en het hulle aangedui dat hulle volgende jaar beslis weer aan die fees gaan deelneem. Vir die kinders van die kinderhuis was die fees ʼn wonderlike geleentheid om die gemeenskap te dien. Sommiges was kelners by die koffiewinkel en ander het by van die stalletjies gewerk. Danksy ʼn gawe donateur, kon hulle hul eie geldjies by die stalletjies spandeer. Abraham Kriel Kinderhuis sê dankie vir wonderlike dag wat hulle saam met die gemeenskap kon deel!