
Winter Olimpiese Spele by die kinderhuis – yskoue spanbou
Op 24 Julie 2025 het die personeel van die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom die koue soos ware kampioene tydens hulle Winter Olympics-spanboudag aangedurf.
Die dag was gevul met modder, medaljes en selfs meningsverskille oor wie eerste die wenstreep gehaal het.
Die kinderhuis se eie Johan en Patsy het die hindernisbaan ontwerp. Hulle het gesorg dat die spanuitdagings almal laat swoeg en sweet het, ondanks die koue.
Die dag was gevul met verskeie hoogtepunte maar bo-aan die lys was ʼn yskoue swembad en ʼn paar dapper siele wat hulself die titel “Ysterman” wou gee. Die res van die personeel het bibberend toegekyk en lekker gelag!
Die Warriors is uiteindelik as wenners aangekondig en het nie net met medaljes weggestap nie, maar ook met prysgeld geborg deur Pepe’s, ʼn plaaslike restaurant in Nylstrooom. Die Survivors het tweede plek behaal, gevolg deur die High-Five-span.
Die koue oggend is afgesluit met warm sop en varsgebakte broodjies wat selfs die grootste koukleum weer laat glimlag het.
Só ʼn dag van saam lag en bietjie gek wees het beslis vir ons span die nodige hupstoot gegee om die laaste helfte van die jaar aan te pak.
