Op vlerke van vreugde – Die Kindervlug 2025


Vroeg Vrydagoggend, 25 Julie 2025, het ʼn klein, geselekteerde groepie kinders van die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom saam met twee van ons personeellede, Annie le Roux en Charnel Oberholzer, die lang pad na Wonderboom Lughawe aangedurf.

Hierdie kinders was bevoorreg om The Children’s Flight by te woon – ʼn dag vol avontuur, verrassings en hoop.

Volgens Felix Gosher, organiseerder van die geleentheid, is The Children’s Flight daarop gemik om minderbevoorregte kinders toegang tot lugvaart te gee. Vanjaar se geleentheid is ondersteun deur 150 vlieëniers en 175 borge van regoor die land.

Kinders tussen die ouderdom van 6 en 13 jaar oud van geregistreerde liefdadigheidsorganisasies en kinderhuise het aan die verrigtinge deelgeneem.

Die atmosfeer was elektries. Kinders én volwassenes het gejuig toe vliegtuie en helikopters verby suis. Gesigte het geblink van vreugde, en die kameras het behoorlik geklik.

Ons kinders en personeel het ʼn helikoptervlug geniet.

“Ek het weer soos ʼn kind gevoel toe ek vasgegordel word en die koptelefoon opsit. Toe die helikopter opstyg, het tyd vir ʼn oomblik gaan stilstaan. Om van bo af na die wêreld onder jou te kyk, was eenvoudig onbeskryflik,” vertel Annie le Roux.

Dit was sonder twyfel ʼn onvergeetlike dag vir beide ons kinders en personeel. “Het jy dáárdie gesien?” en “Was jy ook so bang toe ons opgaan?” was van die opgewonde uitroepe. Daar is gelag, gesels en kosbare herinneringe gemaak.

Ons hartlike dank gaan aan Felix Gosher en sy ongelooflike span van The Children’s Flight-organisasie. Julle het hoop en vreugde in die harte van kinders gebring.

Ondersteun Ons