SkenkSlim
Om aan die Abraham Kriel Kinderhuis te skenk is slim, dit hou ʼn belastingvoordeel vir jou en jou onderneming in.

Suid-Afrika se kinderbeskermingstelsel is onder enorme druk. In Maart 2025 is ongeveer 225 000 pleegsorgtoelaes per maand betaal. Dit is 'n duidelike aanduiding van die groot aantal kinders wat nie binne 'n tradisionele gesinsomgewing grootword nie, maar afhanklik is van alternatiewe sorg. By die Abraham Kriel Kinderhuis in Nylstroom is dit ons mandaat en verantwoordelikheid om 'n stabiele, gestruktureerde tuiste te skep vir kinders wat andersins sonder 'n veilige plek sou wees om te behoort. Hier kan hulle fisies en emosioneel herstel en die geleentheid kry om hul volle potensiaal te ontwikkel.
In die praktyk beteken dit dat ons elkeen van die 170 kinders in ons sorg van die volgende voorsien:
- Drie gesonde maaltye per dag.
- Basiese versorging en toegang tot mediese dienste.
- Geestelike versorging en groei.
- Skoolondersteuning en ontwikkeling.
- Professionele terapie en emosionele begeleiding.
- 'n Veilige, gestruktureerde omgewing met deurlopende toesig.
Die staat se subsidie dek ongeveer 30% van die werklike koste om ʼn kind te versorg. Die oorblywende 70% word ingesamel deur inisiatiewe wat ons loods, asook maandelikse donasies en borgskappe. Uiteindelik is dit hierdie fondse wat ons kinderhuis in staat stel om elke kind te versorg en ons programme volhoubaar te finansier en te bestuur. Ons sien die impak van ons werk by Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom in die volgende suksesverhale:
Sanet Basson het gedurende haar verblyf by die kinderhuis nie net gesondheidstruikelblokke oorkom nie, maar ook haar onderwysgraad aan die Universiteit van Pretoria behaal.
Gavin Smith is 'n oud-inwoner en talentvolle rugbyspeler. Met die hulp van skenkers het hy saam met die AVS se o. 19B-Bokkieweekspan na Barcelona, Spanje, gereis.
Cassey Stehouwer en Chris Richter het in 2025 hulle matriekeindeksamens suksesvol afgelê. Hulle gaan vanjaar hulle hul studies onderskeidelik by Akademia en Bo-Karoo Opleiding voortsit.
Dit is juis danksy die finansiële ondersteuning wat ons maand na maand deur gewone ooms en tannies ontvang dat ons kinders kan aanhou werk aan ʼn beter toekoms.
Elke skenking aan die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom is ʼn belegging in ʼn kinderhuiskind se toekoms en kan ook ʼn belastingvoordeel vir jou inhou. Vir elke skenking kan jy ʼn artikel 18A-belastingsertifikaat aanvra. Hierdie sertifikaat stel skenkers in staat om, onderhewig aan toepaslike regulasies, ʼn belastingaftrekking vir skenkings te eis.
Indien jy in die afgelope finansiële jaar ʼn skenking aan ons kinderhuis gemaak het, versoek jou belastingsetifikaat hier.
Jy kan op die volgende maniere skenk:
Bankbesonderhede:
Abraham Kriel Nylstroom Fonds
Bank: ABSA
Tak: Modimolle
Takkode: 632005
Rekeningnommer: 4113 3977 88
Verwysing: Jou selfoonnommer of e-posadres
'n Selfoonnommer of e-posadres as betalingsverwysing help met naspeurbaarheid en verseker verantwoordelike kommunikasie- en databestuur, sodat ons jou kan bedank vir jou donasie.
Jou ondersteuning maak die verskil tussen bloot versorging en ʼn werklike toekoms. Met elke bydrae help jy om stabiliteit te bring, hoop te gee en geleenthede te skep vir kinders wat dit die nodigste het.
As alternatief kan jy 'n onmiddellike skenking maak via BackaBuddy of SnapScan.
Saam doen ons meer as omgee – ons bou 'n toekoms vir elke kind.
